Die 'drop'..... die lang 'drop'!


Elkeen het sy droom ... 'n ambisie, motivering.... iets wat hom of haar se Hart vinniger laat klop ... elke dag, elke minuut ... 'dit is my eindbestemming ... my doelwit'.....

In my lang kort lewetjie het ek baie goeters beleef ... baie soorte mense ontmoet, dinge gehoor en beleef …. Normaal, nie so normaal, absurd maar ook realisties … maar nog nooit gehoor van die perfekte drop nie!

In sy eie woorde:  ‘Dit moet die perfekte uitsig he, ‘n uitsig so nimmereindigend soos die drop’!

Kom ek verduidelik:

So  kom  hy een oggend sy gewone koffietjie drink … lekker geselser hy … oor alles en nog wat … so sit ons dan en kuier oor ‘n koppie boeretroos (dit moet moerkoffie wees, met kondensmelk in.. en as hy gelukkig is, dalk ‘n beskuitjie of twee …. en so  bou ons elkeen ons  eie koppie boeretroos … saam met die moer en die sif en die kondensmelk … so al geselsende ….’n hele ritueel, die perfekte koppie moer boeretroos…  dan volg  die lang gesels.

‘Wat vang jy deesdae met jouself aan’ sal ek vra …..

‘Man, ek hou my maar besig'…. sou hy dan antwoord ..

‘Vertel, vertel’ …. Dit is min of meer die trant van ons lekker geselsies

Maar die laaste geselsie wat ons gehad het, het ietwat van rigting verander .. dalk was dit maar nog altyd sy droom, n onbewustelike hunkering …. Nietemin, eers was ek heel geamuseerd, maar sy erns het my onkant gevang:

‘Ek gaan Wes Kaap toe, gaan die lang pad vat …. terug …. Op soek na my ‘roots’ …. Natal is ek nou uitgekuier mee …. Ek gaan stadig ry op die lang pad, hier duskant Beaufort Wes afdraai na Meiringspoort, Swartberge toe …. en van daar af … wel, verder weet ek nie …. al wat ek weet is ek gaan my drop soek … my lang drop’!

'Ok, my vriend, alles maak heeltemal sin …. Wens ek kon saam … klink hemels … Meiringspoort, Swartberge en die res ken ek, het grootgeword Saammet hierdie roete, ken dit redelik al uit my kop … pragtige wereld … jy moet jou tyd vat daar in Meiringspoort vriend …. Vat die wandelpad en gaan ‘explore’ …. Die Swartberge is ‘n belewenis …. daar sal jy jou siel weer vind …. jou rus …. jou ‘nis’ ....

Maar die lang drop? …. Verduidelik asb nou vir my baie mooi … ek is nie meer vandag se kind nie, my geheue nie meer so vinnig nie (al wil ek vir myself net die teenoorgestelde vertel) …. Probeer asseblief in mooi duidelike taal jou droom skilder …. Sodat ek die prentjie ook kan sien..?'

‘Dit moet ‘n uitsig he ….. Strek tot aan die einde van die horison …. Ek moet die mis kan sien opkom, die heuwels kan sien saamsmelt met die wolke, die son sien opkom en hoe dit die aarde begroet …. Sy vriendelike groet in die oggend, sy lag wat hy uitstrooi oor die horison om sy koms te begroet, op dae waar die son te lui is om op te staan en motreen stuur om die aarde te kom afkoel met haar baljarende nattigheid, op dae waar nog son nog motreen kom groet, en mis word gestuur om besoek te kom afle .. die hemelse uitsig wegvat, maar kompenseer met sy tangos, walse en tja-tja’s …. Al dansende oor heuwels en dale ….

Dit is waarna ek gaan soek.  En as ek die perfekte uitsig kry vir my drop, daar gaan my soektog eindig …geen deur nie, net ‘n gat, ‘n baie diep gat … ek moet my drop kan hoor val … ver, baie ver … geen niemand naby, geen stadsverkeer, geen selfoon, geen  ‘facebook’ … net ek en my drop’ …. En as ek my perfekte drop met sy uitsig gevind het, daar gaan ek my tentpale opslaan en my droomhuisie bou …. so 'n entjie weg van my 'drop’!

My spesiale vriend:  ek hoop jy vind jou lang drop …. En eendag, dalk eendag, kom sit ek neffe aan jou …. Nie te naby nie, net ver genoeg … sodat ek ook daardie uitsig kan waardeer ...

Go well, my friend .....


Comments