Kleintyd Somervakansies


Min dinge in die lewe is so opwindend soos die voorbereiding op daardie langverwagte somervakansie! My kindertyd herinnering is deurspek met onthou's .....

Mamma het maande voor die tyd al begin met vakansie klere maak. Dit was die hoogtepunt van die jaar. Met liefde het sy die materiaal gaan uitkies tesame met die patrone (onthou julle nog die groot 'Vogue' patrone?), dit presies uitgesny net soos elke afsonderlike partroon dan ook aangewys het, met elke liewe kepie en hoekie en 'dart', net soos daardie spesifieke patroon dit vereis. 'n Baie tydsame proses, maar onthou, daardie tyd het ons alles anders gedoen. Daar was baie tyd op hande, want daar was nie soveel moderne tegnologie soos vandag nie (die rede waarom ons soveel kon uitrig ... dit neem nou ure om die nuwe tegnologie eers te studeer voor jy kan waag om dit te verstaan wat nog te se gebruik!) Ewenwel, nadat al die strandrokkies en broekies gemaak is, is alles agter eenkant in die kas gehang. Ons is nie toegelaat om dit te dra voor die vakansie nie. Maar het elke dag omtrent 10 keer gaan kyk of dit nog daar is.

Die volgende baie belangrike item op die agenda was koekblikke vol kry. Dit was groot pret, want almal het meegedoen. Daar was gemmer koekies, hardekoekies (sommige noem dit spesery koekies, so met die ekstra bietjie suiker bo oor gestrooi), konfyt tertjies, 'hetzoggies', ag ek kan nie eers al die name onthou nie, maar die lekkerste was die veelbekende koffiekoekies. Daardie deeg wat mamma altyd deur die 'koekie of vleis malertjie ' gedruk het en agterna met versiersel tussenin opmekaar geplak het. Dit was ook gewoonlik eerste uit die koekblik 'gesteel'. Ons is toegelaat om 'n 'tupperware' houer vol te gebruik voor die vakansie, maar die res is ver weggebere. En glo vir my, nie een van ons kon ooit daardie blikke uitsnuffel nie. Mamma het presies geweet watter plekke ons nog nie ontdek het nie!

Dan is die kampgereedskap uitgehaal, elke liewe item behoorlik geskrop, selfs die tente. Al die tentpennetjies is getel, al die toue ontknoop en weer netjies terug gesit in sy eie afsonderlike sakkie. Die karavaan was volgende. Dit is van voor tot agter geskrop, gordyne gewas, beddegoed gewas. Pa se werk was om die bande, gasbottels, ens na te gaan.

Intussen het die spanning opgebou, daar is vakansie gepraat van die more tot die aand, by die huis, by die skool, by die kerk en uiteindelik het die groot dag aangebreek. Alles is gereed gekry sodat Pa ons net by die skool kon gaan haal as die skool sluit. Man, wat 'n wonderlike gevoel was dit nie as die skoolklok vroeer as gewoonlik lui, en Pa by die hek met die karavaan gestaan en wag het net soos hy belowe het nie!

Natuurlik is bande gepomp, petrol en water ingegooi, vensters gewas, ens reeds die vorige dag en ons kon in die pad val. Die eerste paar myle (in my tyd was dit nog myle) het ons gesing, speletjies gespeel, opgewonde gesels . Anderkant Bloemfontein op pad Colesberg toe het die pad darem te lank begin voel, ons het geirriteerd begin raak met mekaar, begin stry, baklei oor die beste plek in die agtersitplek en Mamma het vir Pa gevra om te stop! Die sonderbok gaan in die veld gelos word alleen, en die res gaan alleen vakansie hou! Natuurlik het ons dit geglo. Mamma het dit gedoen een jaar ... my daar in die veld gelos en verder gery ..... Ek was histeries, verskrik, hartseer omdat my mense daaraan kon dink om my alleen daar te los in die wrede wye wereld! Maar Pa het slegs entjie aangery, teruggery en my weer gaan optel met ‘n streng vermaning. Daardie verligting om weer veilig in die motor en deel van my gesin te wees was so groot dat ek enigiets sou doen om nooit weer daar in die veld alleen gelaat te word nie! En dit was die beste voorbeeld vir die res van die kinders.

Die lekkerste lekker van my kindertyd vakansies met die karavaan op pad was die klein tafeltjies en stoeltjies waar ons altyd gestop het om padkos, wat Mamma dan ook die vorige dag gemaak het, te eet, drink en uiting te gee aan moeder natuur. Daardie padkos ritueel was die hoogtepunt van ons reis. Dit was ‘n koningsmaal, niemand kon padkos maak soos Mamma nie. Gewoonlik het Pa gestop by ‘n plekkie met ‘n lieflike uitsig en die verbygangers, ook op pad na hul vakansie bestemming het dan ook by die vensters uitgehang, gewaai, getoet.

Op Beaufort Wes het ons gestop by ‘n karavaan uitspanplek en daar oornag. Ons kon by die openbare geriewe bad of stort en die volgende oggend weer in die pad val.

Een van my indrukwekkendste herinneringe is die verskriklike lang pad deur die klein Karoo, Meiringspoort met sy verfrissende natuurskoon en vars skoon berglug en die duiselingwekkende Swartbergpas. Eers daar verby , kon jy al die see ruik en het ons ook begin wed wie eerste die see sou sien.

Die van julle wat nog die ou ATKV in Hartenbos onthou, sal met my saamstem dat daar maar net geen vakansie was soos by daardie kampterrein nie. Daardie ‘vibe’, vriende wat jy jaar in en jaaruit maar weer daar ontmoet, vakansieromanses, vakansieprogramme, kampvure, braaivleis saam met nuwe vriende om maar net ‘n paar te noem, roep soveel kosbare herinneringe op.

Vandag koop ons sommer vakansieklere (op rekening), koekies van die rak, ry met motor en oornag in ‘lodge’ of hotel, padkos het plek gemaak vir ‘Wimpy’s’ , ‘Maxi’s’, ‘KFC’, ‘Nando’s’ om maar net ‘n paar te noem, die tafel en stoeltjies langs die pad toegegroei met slegs enkeles nog sigbaar om te herinner aan ‘n tyd toe dit nog veilig was om vir ‘n paar ure langs die pad te stop, te eet en miskien uit te span om te oornag, kinders speel met hul ‘video games’ en kyk DVD’s al reisende, sien nie die natuurskoon en omgewing meer raak nie. Of nog beter, dit is goedkoper en deesdae veiliger om te vlieg of bus te ry.

Die ‘vibe’ is nog daar, vakansieromanse sal altyd daar wees, braaivleisvure brand nog steeds,, nuwe vriende kom en gaan, maar ons ervaar dit net anders.

Herinneringe aan my kleintyd somervakansies is ‘n kosbare kleinood en miskien, dalk net miskien kan ek ietsie daarvan aan my kleinkinders oordra …..

Comments