Huisie by die see!



Almal wil 'n ‘huisie by die see' he - dit is maar meeste van die ou mensdom se grootste illusie of droom ......
Daar is so 'n tikkie misterie aan: harde slag van branders teen die rotse ...... wye wit strande ..... digte bosse langs die hoe duine met 'n klein huisie weggesteek iewers tussenin .... vars reuk van see, vis en woud gemeng .... onbeskryflike gevoel van rustigheid ..... maanlig op die donker horison ..... verbygaande skepe ... sagte sand deur jou tone … lang wandelinge op die strand …. Piekniek op die strand … hemels en onbeskryflik! .......
Min dinge in hierdie gejaagde lewe verskaf soveel genotsaligheid soos om daardie deur van jou 'huisie by die see' oop te stoot na weke of maande van afwesigheid …... 'n heerlike gevoel van menswees vul jou wese …..die vensters en deure wyd oopgemaak, jy adem die vars skoon seelug in, voel hoe jou longe vol word (iets wat jy definitief nie in die binneland sal regkry nie!), daardie fantastiese prentjiemooi uitsig op die waters, ontstuimige klots van branders teen die rotse, daar is maar net geen woorde wat daardie gevoel kan beskryf nie ... en 'n rustigheid neem van jou besit ....

Die eerste koppie koffie by die see proe soos geen ander koffie iewers anders nie. En daardie eerste maaltyd ... dit kan natuurlik nie anders nie .... dit moet 'n vleisie op die kole wees ... geen braai is soos 'n braai by die see nie!

Die ‘grocery’ kas is natuurlik totaal leeg, dus af met die straat af …. die hele familie in die motor. Die Spar in die binneland is ook glad nie dieselfde as die Spar’s op die kus nie! Die reuk, die mense, die atmosfeer is heeltemal ‘anders’ …

En dit is nou net hier waar die sports begin …

Afgesien van die feit dat alles ‘duurder’ blyk te wees, is die ‘verskillende tipe vleissoorte ook nie na wense nie’ … die ‘kwaliteit is nie van die beste nie’ … om nie eers te praat van die biltong en droe wors vir die rugby more nie! Die biltong lyk ‘effe grys en uitgedroog’, dit lyk soos verlede jaar se bees wat nog steeds winddroog hang! Geen smaak hier ook nie! Maar wat, mens kan ook nie altyd die beste in die lewe wil he nie en nadat die ou hart amper paar keer gaan staan het oor die ‘belaglike pryse’, vakansiegangers wat die ‘rye vol staan en gesels’, sommige artikels wat twee keer teruggepak word maar dan weer ingepak word, amper twee ure langer in die rye loop en soek het na die gewone produkte maar alternatiewe goed moes inpak en dan ook ekstra lekkernye ingepak, uitgepak en weer ingepak het (jy en Mnr Gewete moes eers kompromie aangaan en tot finale besluit kom), die familie ‘n verdere uur spandeer het om hul eie vakansie goedjies uit te soek en natuurlik die beste en duurste produkte uitgekies het, jou begroting die eerste dag al in sy glorie …. maar wat, wie gaan nou argumenteer terwyl jy nog in ‘n goeie gees is (en die klein blikslaers weet dit maar al te goed), die mandjies hoog opgestapel, heeltemal oorboord en oordadig, is die hele familie weer op pad terug, motor tot oorlopens toe vol gelaai ... en almal praat en beduie opgewonde.

Nou kyk, teen daardie tyd is die bloedruk, wat veronderstel is om by die see na normaal terug te keer, jou goeie voornemens om die paar dae by die see meer verdraagsaam, spontaan en minder krities te wees en ligtelike gemoedstoestand lankal by die agtersitplek uit! En elkeen verdwyn soos mis voor die son! Gryp handdoeke, strandballe, sonbrille en suntan lotion … en los jou met die gebakte pere, ‘n kombuis vol pakkies, vergete die braaivleis, lee beloftes van ‘saamstaan en help', ‘n vinnige ‘bye, ons gaan net gou lyf natmaak, gou vir die see hallo se, sien julle later … ons sal kom help as ons terugkom!’, begin jy wonder hoekom jy dit elke keer aan jouself doen!!

.... maar jy keer elke keer terug na jou ‘huisie by die see’ ...... want die koffie proe beter, braaivleis bly 'n magiese gebeurtenis, jou bloeddruk daal tog uiteindelik en die biltong proe na die derde stukkie soos Vrystaatse biltong by die see!


Comments