Maskers


Agter elke mens skuil daar 'n masker. 'n Verskuilde karakter waarvan niemand anders weet nie, niemand anders kan sien of dink niemand sien nie. Die 'gelukkiges' gaan na hulle graf met daardie masker. Die 'ongelukkiges' se masker word afgeruk, ontbloot en miskien gebrandmerk.

Na baie wik en weeg, het ek besluit om 'n onderwerp aan te vat wat my baie na aan die hart le. Deels omdat ek eerstehandse kennis en ondervinding het, deels omdat ek hoop dit maak die weg oop vir ander mense met min of meer dieselfde ondervinding en grotendeels omdat geen woorde kan beskryf presies hoe diep hierdie letsels le, hoe wyd die probleem en sy gevolge is, hoe min gedoen is aan hierdie spesifieke probleem nie.

Alles le nie altyd in die hande van God nie ..... ons as mense, Sy skepping, het ook 'n verantwoordelikheid ......

Waar het dit alles begin, hoe, wanneer en waarom? Dit is vrae waarmee ons elke dag worstel. Kon ons dit verhoed het? Hoekom het ons dit nie voorsien nie? Hoe kon niemand dan die tekens sien nie. Hoekom eers sy lewe neem voordat die erns van die probleem besef word ... die kort boodskappie wat hy agtergelaat het is baie duidelik, se eintlik te veel en bring nog meer vrae na vore. Desperaat probeer ons die drade optel, antwoorde vind, loop elke keer te staan voor doodloopstraat, met nuwe rou wonde, herinneringe en nogmaals meer vrae ...

Om die naasbestaandes te beskerm, sal ek skuilname gebruik

Jaco se woorde was: 'Solank ek maar kan onthou, het dit begin gebeur'. Wanneer begin 'n kind werklik onthou? Op drie, vier, vyf jaar? En wanneer 'n kind begin besef dit wat gebeur, is nie reg nie, dat dit nie reg kan wees nie, dat wat pa doen, nie normaal is nie, die verhouding met pa is nie die gewone pa/seun verhouding nie en as 'n kind op die ouderdom van sewentien vir die eerste keer daaroor praat, is die skade reeds gedoen!

Hy was 'n dierbare klein seuntjie, blond, blou oe, vol lewe, klein, fris en kort gebou net soos sy oorlede pappie. Met 'n baie weerlose kyk in sy oe. Sy nuwe pappa Pierre, het hom verafgod, buitengewoon beskerm en glad nie behandel soos sy sussies nie. Daar was 'n baie spesiale band tussen hulle, niemand het geweet of selfs vermoed dat sy nuwe pappa 'n verskuilde masker ronddra nie. Hoe dan anders, hy was dan 'n baie gesiene man in die gemeenskap, gemeentelede het na hom opgekyk, na hom gekom vir raad, leiding en berading. Sy vrou Tia, was sy steunpilaar en rots. Soos enige ander egpaar was daar die gewone argumente en probleme, miskien was daar meer, sy het nooit daaroor gepraat nie, want sy was die rots, onbeweeglik en toegewyd aan God, haar gemeente en huisgesin.

Tot een dag. Die mat is onder haar voete uitgeruk, haar hele wereld is met een kort sin onder haar uitgeruk. Daar was 'n program op televisie met die spesifieke onderwerp: kinders wat deur ouers of een of ander familielid seksueel misbruik of liewer gebruik word. Net uit gewone nuuskierigheid het Tia hom prontuit gevra of hy al genader is deur 'n ouer persoon. Sy woorde: "Ja Ma, vandat ek kan onthou" het haar hele wereld soos 'n kaartehuis in een oogwenk inmekaar laat tuimel. Sy volgende woorde: 'Maar Ma het dan al die tyd daarvan geweet" was soos 'n dolk deur haar hart. Hoe vertel jy jou kind dat jy geensins eers 'n vermoede gehad het nie, wat se jy vir jou sewentienjarige seun, wat antwoord jy hom. Jy wat hom moes beskerm, met 'n man getrou het juis om 'n veilige vesting en standvastige toekoms vir die gesin te skep. Jy wat veronderstel was om hom te beskerm, het hom vir die spreekwoordelike wolf gegooi! Daar was net niks wat die skade kon herstel nie. Sy lewe was klaar verwoes. In duisende stukke gebreek deur 'n 'man van God' wat elke dag op die preekstoel gestaan het, met 'n gevestigde gemeente wat hul leier in alles geglo, nagevolg en vertrou het. Hoe ontbloot mens so 'n walglike daad as jy weet dit kan onskuldige nuwe bekeerlinge, mense wat blindelings sy beleid nastreef, onherstelbaar knou, die innerlike stryd wat hul sou moes stry oor een man wat vir sy eie selfsugtige behoeftes 'n kind wederregtelik misbruik het oor jare heen! Die skade was gedoen. En sy moes 'n gesluit neem ....

Daar word gese dat elke mens 'n tweede kans verdien, dit het Pierre dan ook gekry en meer. Niemand het geweet nie, niks vermoed nie, nie vriende of familie nie. En Pierre het in die bediening gebly. Hy het 'n belofte afgele om nooit weer aan Jaco of enige ander kind te raak nie, ter wille van die gemeente, hul geloof en dit waaraan hulle vasklou. Hy het daardie belofte nagekom. Maar Jaco moes die prys betaal .....

Intussen is Jaco getroud, met sy eie blonde krulkopseuntjie, sy ewebeeld. Net soos sy oorlede oupa. Maar die skade van sy kinderjare het hom stadig maar seker vernietig. Sy innerlike, sy geloof, alles waaraan hy geglo het, het hom stukkie vir stukkie opgeeet. En Jaco het steeds sy ma kwalik geneem. verwyt dat sy hom nooit kon beskerm as kind, dat sy nie die tekens vroeer kon sien nie, dat sy nie die huwelik dadelik beeindig het nie, hy die een was wat die prys moes betaal. Hy het normale verhoudings gehad met vrouens, maar daar was altyd iets wat skeefgeloop het. Want die skade was gedoen.....

Jare het gekom en gegaan, Pierre was lank reeds nie meer in die bediening nie, met 'n klein snelgroeiende besigheid wat 'n redelik goeie inkomste vir hom en sy gesin verseker het. Tot een dag. Die bom het weereens gebars! Sy dogter Marlene, het afgekom op een van sy webblaaie. Hy het sy siek dade voorgesit op internet, hom voorgestel as 'n jong man en hom oorgegee aan sy seksuele drange. Dit was die einde van Pierre en Tia se huwelik. Familie, vriende en oud gemeentelede was platgeslaan. Hoe kon Tia haar huwelik beeindig na soveel jare. Pierre is dan ''n toonbeeld van 'n gesinsman, kind van God'! En weereens moes Tia die prys betaal. Tia het besluit om alles te vertel. Maar dit was toe lankal reeds te laat.

Ou wonde is weet van nuuts af oopgegrou en wie weet wat toe alles in Jaco se kop aangegaan het. Wie weet wat hy werklik gevoel en gedink het. Het hy verwerping gevoel? Sy pa het immers jonger mans bo hom verkies. Hoe siek ook al, geen mens weet wat werklik in sy binneste aangegaan het nie. En Jaco het reeds lankal besluit om 'n einde te maak aan alles, het dit ook herhaalde kere gese, so ook die presiese datum.

Die sms het gekom vroeg die oggend, sy laaste wens. En 'n derde keer is die mat onder Tia se voete geruk! Selfverwyt, rou herinneringe, bitterheid, eensaamheid het soos 'n maalkolk van emosies deur haar gewoed. Sy was totaal verslae. Maar haar geloof en liefde vir God het haar steeds staande gehou.

Vandag, 'n jaar later, is die volle verhaal nog nie vertel nie. En Pierre is nog steeds vry. Jaco het 'n beedigde verklaring afgele voor sy selfmoord. Volgens die polisie is die hoofgetuie oorlede. Dus geen saak nie. Daar was blykbaar ander jong slagoffers maar hulle kan of wil nie praat nie. Een so 'n kind verkoop glo sy liggaam in Kaapstad. Sy lewe verwoes. Hy wil nie betrokke raak nie en wil nie praat nie. Dit is lankal reeds te laat.

En die skuldigde loop nog vry. Hy dra nog steeds sy masker. Tia glo dat God hom sal vergeld. Hoeveel lewens is vernietig, hoeveel gesinne tot niet as gevolg van een man se selfsugtige drange. En dit kring net nog wyer ....

Familie en vriende onthou Jaco as 'n pragtige blonde krulkopseuntjie, onskuldig, net soos sy seuntjie. En bid dat God sy seun sal behoed en bewaar van skurke soos Pierre.

Die 'gelukkiges' kan agter hul maskers wegkruip vir die res van hul lewe, salig in die wete dat hul maskers en skandes nie ontbloot word nie. Eendag sal hulle voor God moet staan, rekenskap moet gee, dan sal daar geen genade wees nie.

Die 'ongelukkiges' wie se maskers op aarde afgeruk word, kry 'n kans om reg te maak, boete te doen en 'n beter lewe te lei. Gebrandmerk of nie.


Hierdie is opgedra aan jou Jaco, jy sal altyd in ons harte voortleef, en ons glo dat God, wat geweet het watter smaad en leiding jy deurgegaan het, jou genadig was en saam met Hom in die paradys geneem het - waar ons weer ontmoet

Comments