Siepsop en braaiboud!


Die van julle wat nie hierdie 'spreekwoord' ken nie, kan gerus een van die ouer mense vra. En dan ook 'n volledige gedetaileerde weergawe verwag!

Vandag noem hulle dit 'sielkunde'.

My ou vader (saliger hy, hy is lankal nie meer met ons nie) het nie 'n woord soos sielkunde in sy woordeskat geken nie. En daar was ook nie 'n 'swart boekie' met die sogenaamde tweede kanse aangeteken soos sommige ouers se neiging deesdae is iewers in sy agtersak nie. Daar was maar net geen tweede kans nie.

Daar was sekere reels neergele in ons huishouding. Ons was 'n gesin van drie suster en een broer (heel gemaklik vir hom) en elkeen het sy takie gehad, het dan ook beurte gemaak en indien daardie persoon nie sy takie om een of ander rede kon afhandel nie, moes hy maar net onderhandel met die res. Maar daar is nie na verskonings geluister nie. As Mamma by die huis kom en selfs een takie is nie gedoen nie, het ons almal deurgeloop. Geen swart boekie is uitgehaal, geen kruisies getrek, geen sielkundige geselsie in die 'studeerkamer' nie! Siepsop en braaiboud was die enigste taal wat ons geken het. Somtyds het ons geweet wat wag, het dan ook ons boude 'vet gesmeer', gesit en bibber, gewag vir die baie bekende: 'Nou waar het ek nou daardie platriem gesit' en nie eers probeer mooibroodjies bak nie. Daar was maar net geen tweede kans nie. Somtyds het ons gevoel dit was onregverdig, en somtyds het ons probeer verduidelik, maar dit was maar net 'n brawe poging. Die reels is neergele en daarby moes ons hou! Ons kinders het daardie ellendige platriem gevrees soos niks anders in ons huishouding nie. Het dit ook telkemale probeer wegsteek, begrawe of spoorloos laat verdwyn. Vandag wonder ek of daar nie een of ander 'tracking device' op was nie!

Na so 'n siepsop en braaiboud sessie, moes ons dit ook nie waag om 'ons op te ruk' (soos die ou mense dit genoem het) nie - ons moes daar en dan om verskoning vra, verduidelik waarom ons slae gekry het en daar is dan ook 'n verhoorlike les gegee oor die gevolge, nagevolge en moontlike bygevolge van ons dade. Met 'n druk, 'n soen en versekering van hul liefde is ons dan weggestuur. Gelukkig in die wete dat ons nog geliefd en bemind is, is ons dan daar weg, vergete die braaiboud!

Waar het ons hedendaagse ouers dan gefaal?

Is ons te besig om 'n lewe vir onsself en ons kinders te probeer skep dat ons nie sien waar hulle faal en die probleem daar en dan pak nie? Is dit omdat ons te blind is vir hulle foute? Omdat hulle te slim is en ons toelaat om ons 'n rat voor die oe te draai. Omdat ons skuldig voel omdat ons nie kwaliteit tyd saam met hulle kan deurbring nie. Omdat ons te besig is met besige dinge. Het ons toegelaat het dat sielkunde die alternatief word. Dit is immers minder spannend, minder melodramaties, skep minder komplikasies, en binne die 'raamwerk'. Lyfstraf is mos glo buite die wet. Baie gerieflik, dit skep die ideale middeweg. Of die swartboekie metode, nog beter. Punte vir goeie dade, punte af vir foute. Salig, probleem opgelos. Nou kan ons aangaan met ons eie probleme. Ons kind sal mos nou goeie dade doen om punte by te kry! 'Never mind' die foute wat hy maak, die moontlike gevolge van sy slegte dade ..... dit is nie aan hom verduidelik nie. Goeie dade, ja, dit word geprys en somtyds kry hy dan ook sommer 4 punte by! Volgende slegte daad sal wel oorgesien word as 'n goeie daad gedoen word. Bose kringloop.

Siepsop en braaiboud mag dalk die ideale uitwerking he, sielkunde beslis vir sommige kinders en die swartboekie uitstekend vir hedendaagse ouers. Daar is egter slegs een metode wat sonder twyfel nooit faal nie: Met ons kniee op die grond, ons oe na God vir leiding oor presies watter metode ons kinders sal help om 'n sukses te maak van hul lewens. Want ons staan eendag voor Hom, rekenskap sal van ons geeis word oor wat ons met ons kinders gedoen het. Hulle is immers aan ons geleen.

Comments