Clarens





Vars, skoon berglug, reuk van bome, plante, blomme om jou, binne jou. Asemrowende berguitsig, groen valleie, geluide van watervalle uit verskeie rotse en skeure, swiep van winde oor en om die heuwels, 'n rustigheid wat aan jou klou, bly klou tot hy jou totaal verower en vergeet van 'n wereld daar buite, buite die grense van Clarens.

As jy alreeds die wereld gesien het, besluiteloos en vervelig wonder waar volgende, kan 'n reis na Clarens dalk net jou eindbestemming word. Hierdie plattelandse Vrystaatdorpie, gelee tussen en rondom die berge van die Maluti, teenaan Lesotho. het 'n eietydse sjarme wat mens onverwags van jou voete swiep, jou vasvat, meevoer en laat los met 'n afgehele oorbluftheid en tevredenheid. Met daardie 'arrived' gevoel.

Ons val vroeg in die pad. Hier verby Heilbron kon ek al sien dit gaan 'n baie lang dag wees. Slaggate, ompaaie, swaar reen, mis, beeste en voels in die pad plus 'n kloppende hoofpyn was ideale omstandighede vir 'n rooikop humeur. In Bethlehem kon ons bene strek, ek 'n poeiertjie koop vir my hoofpyn, natuur sy gang laat gaan, die dak van my motortjie oopmaak en met batterye gelaai weer in die pad val. Genadiglik was die pad in beter toestand, die weer uitstekend en met die wind deur my hare, son op my lyf en skoon vars reuk van die ope lug kon ek voel hoe al die dioksiede, spanning en hoofpyn my liggaam verlaat. In so 'n mate dat ek die afrit na Clarens amper miskyk. In die verte voor my kon ek die Maluti berge sien, afgeets in donker grys, groen valleie, vars reuk van plante en reen rondom my en in die oop motor. Terwyl ek nog wonder waar op deeske aarde Clarens sou wees, verskyn die eerste geboue net na die volgende bult. Maluti Lodge aan die regterkant, Switserse tipe huis verder aan, paar eenderse huisies waar komberse glo al vir 50 jaar verkoop word, aan die linkerkant nuwe huise hoer op teen die berg (doen effe skade aan die aansig daar), golf bane met nuwe ontwikkeling laer af en dan die afrit na die eintlike dorp/ie.

Daardie tuisgevoel kruip deur my are, die hare op my arms begin rys (weet nie van enige gees wat dalk in die ry saam met my in die motor ongenooid geklim het nie - as enigiemand dalk 'n storie hieroor het, sal ek graag wil weet) en ek weet, hier kan ek 'n nuwe tuiste skep.

Verby die nuwe Protea hotel, petrolstasie, plaaslike supermark, kunswinkeltjies aan die linkerkant tot by die plein. Amper soos 'n perdehoef. Die een interessante winkeltjie op die ander, antieke en hedendaagse kunswinkeltjies, restaurantjies, kroegies, straatkafees, weer om die ander kant van die perdehoef verby groter winkels, Maluti bottelstoor, die bekende Clementines restaurant een straat weg, pragtige ou geboue wat die toets van tyd weerstaan het. Elke gebou uniek op sy eie manier, anders, kunstig en tydloos. Eers later sou ek hoor Clarens het geen groot kettingwinkel of liewer 'franchise' nie. Om verstaanbare en vanselfsprekende redes. Enige inkopies wat gedoen word, word in Bethlehem, Fouriesburg, Harrismith of omliggende dorpie gedoen. Heerlik, dit maak inkopiedag dan mos een prettige uitstappie!

Boeretroos in Clarens gee die gewone koffie ritueel 'n nuwe belewenis en terwyl ek by een van die tafeltjies sit met my koffietjie voor my, die stadige beweging van inkomende verkeer dophou, mense wat op hul tyd en ontspannend van een winkeltjie na die ander slenter, die asemrowende natuurskoon en uitsig bewonder en die vars berglug inasem, kom daar 'n geluksalige menswees gevoel wat geen mens in die stad sou kon ervaar nie.

Clarens en sy mense, omgewing en klimaat (ysige koues met sneeu op die berge) kruip in jou hart, klop deur jou are, vang jou onverhoeds, laat jou skarrel en wonder waar het jy als verloor .....

Comments