Vanwaar Gehasie? .....


Met handgebare beduie hy, stap entjie aan, kyk voor hom uit, stap oor die pad sonder om links of regs te kyk, gaan staan doodstil in die middel van die pad op die wit sperstreep, beduie weer met sy hande, wys vinger en voer hele gesprek met 'n onbekende voor hom (steeds in die middel van die pad), skynbaar in hewige argument betrokke, swaai met sy 'kapmes' 'n blindelingse hou wat enigeen voor hom grond toe sou vel, stap weer entjie aan en gaan sit op die sypaadjie, kop op sy kniee vooroor gebuig, arms gevou, sy ou vuil, verslete kombersie langs hom ....

Vanwaar Gehasie? .....

Dag in en dag uit staan sy daar. Bordjie in die hand: 'No job, no food .. need any job or food .. '. Klein, maer, tingerig, hoedjie laag oor die voorkop vir beskerm teen die bloedige Natalse somer son. Ruggie kromgetrek, wagtend by die stop straat. Aan 'n lamppaal langs haar le 'n klein foksterrier, spekvet en gesond aan sy leiband, gevreet tussen sy pote, rustig, tevrede, lig sy kop op so nou en dan, in die bloedige son. Elke 'local' in die stad ken haar, kry so nou en dan jammer, gooi iets haar kant toe (nie asof mens haar kan miskyk nie, sy staan dan reg langs jou by die stop straat!), veral as sy jou so reg in die oe kyk as jy so gelukkig (of ongelukkig) is om eerste te stop by daardie stop teken! Nee genade, geen mens met 'n siel en liefde vir God kan mos dan wegry nie. Daardie stop teken probeer ek vermy soos die duiwel 'n slypsteen probeer vermy. Al my tiende is al uitgegee op daardie stop teken! En hierdie tyd van die jaar vat darem effens aan 'n mens se beursie, daardie paar sent kan darem brood koop ...

Vanwaar Gehasie? ...

Om 'n kring sit die paar mensies en 'koukus'. Elkeen met sy paar aardse besittinkies, verwese, verwaarloos, sommige met klein 'shopping bag' iewers in 'n bos weggesteek, so sit hulle op hul hurke by 'n vuurtjie wat een aanmekaar geflans het. Staar net daarna, hande voor hulle, koue wintersbriesie wat snerpend aan hul karige klere gryp, beduie so nou en dan, staar weer in die vuur, kyk elke dan en wan op as iemand nader kom, probeer die persoon vaspen met sy oe (wat natuurlik nie gereeld gebeur nie), en hoop vir simpatie, paar sente by nog 'n Godvresende medemens, nog 'n verbyganger...

Vanwaar Gehasie? ...

Ek sien hom daar eenkant sit, glas voor hom, staar net daarna, kyk so nou en dan op, belangeloos, verslae, en so sit hy vir paar ure, klokslag elke oggend, dag in en dag uit, daar eenkant in die kroeg. Die 'locals' weet van hom, hou al sy gewone glasie reg, elke dag iemand anders wat 'sponsor', niemand ken hom regtig nie, weet nie waar hy bly, waar hy vandaan kom nie ...

Vanwaar Gehasie? ...

Wie van ons weet wat is die storie agter die storie? Wie van ons weet wat het hierdie mense gebring tot by hierdie pad en dalk moontlike kruispad en die verkeerde pad laat kies?

Wie van ons kan vinger wys? ...

Vanwaar Gehasie? ...

Comments