Saam op reis ... op pad na Strandloper aan die Weskus

Daar is daardie een 'magiese' belewenis in mens se lewe wat jou altyd sal bybly. Jy kan dit enige tyd in jou gedagtes oproep, dit is hier voor jou, helder soos gister, om jou, rondom jou, jy kan amper die oomblik aanraak.
'n Jaar of wat gelede het ek die voorreg gehad om saam met vriende te reis met die Weskus op vanaf Kaapstad, Strandloper is die plek se naam. Nou, die van julle wat nie weet van hierdie juweel nie, klim in jou motor en gaan ervaar hierdie buitengewone 'vyfgangmaal'.

Vroeg die oggend was ons al op pad, verby Melkbosstrand, al langs die Weskus, nie geweet waaroor al die 'Strandloper' gedoente gaan nie. Daar gekom, was ek darem glad nie beindruk met die 'ru, ongereptheid, onontwikkeldheid' nie! Nee genade, om darem al die pad te ry en iewers tussen 'somewhere en nowhere' te gaan parkering soek, met geen geboue in sig, geen moderne toiletgeriewe, geen behoorlike sitplekke, geen behoorlike tafels, met hierdie braai area in die middel, groot aluminium potte, stomend, staan oral rond, varsgebakte brood in oop swaarboompotte staangemaak iewers eenkant, tafels met onder andere moskonfyt, tradisionele weskus geregte, vis, snoek, mossels, kreef (omtrent al wat my op daardie stadium beindruk het), honderde krewe van hulle, almal in netjiese rye op roosters!), mense wat op en af, heen en weer skarrel, geen behoorlike skuiling, elkeen gryp maar 'n ou sitdingetjie wat hy van hou en pak sy mandjie uit op die waggelende tafeltjies.

Ek het hierdie storie so bekyk, gewonder waarin ek my begewe het, die eerste die beste glas wyn gegryp en gehoop vir die beste.

Terwyl ek hierdie gedoente so bekyk, sien ek hierdie kerneels met sy kitaar in die hand rondbeweeg tussen die tafels en ek dog toe nou wat .......! Kerneels kry sy sit onder een van die 'seil afdakke' en begin sy kitaar tokkel en trek daar los. Nou, die van julle wat nog die ou Afrikaanse 'Sarie Marais-Ou Ryperd-Oom Bossie van die Bosveld-liedjies ken, hierdie sanger het die kuns volmaak om jou tone en lyf in ritmiese beweging te kry en kort voor lank het hy die hele gehoor se onverdeelde aandag met sy mannewales en verdraaide weergawes van ons ou boere wapadliedjies!

Intussen hardloop talle 'sogenaamde kokke' rond om alles gereed te kry vir die 'voorgereg' . Een ding moet julle mooi verstaan, ek kom van die Vrystaat. Daar word dinge gedoen op die gewone Vrystaat boere manier, soos ek gewoond is aan. Niemand het my voorberei op hierdie 'deurmekaarspul' nie. En dan praat die mense nog van 'n 'vyfgangmaal'!! En dan nog boonop R120 (seker lankal reeds verdubbel) per kop!!!

Nou waar in die wereld ..... !


Soos die mense begin instroom in die 'shacks', in lang toue begin staan en wag om te probeer plek kry op die 'armsalige' stoeltjies, en soos die wyn my ingewande begin rustiger maak, het ek besef: hierdie is nie naastenby iets wat ek nog ooit belewe het nie!

Die Weskus was besig om aan my siel te vat, my wese binne te dring, my hart te raak - die 'Strandloper' is 'n belewenis wat bybly, rou en vars en jou wil laat terugkom, terugkeer na die ongereptheid, skoonheid en verrassende ongekunsteldheid van die omgewing, kos en sy mense!

Comments